Ek is op 17 April 2019 vroegmiddag by Moria, Tweeling weg oppad na Reitz. Ongeveer half-twee was ek met die besigheid daar klaar en was ek weer oppad terug Tweeling toe.

Ek was maar ‘n paar minute op die R24 toe dit gebeur het: Vir n oomblik het ek my oë nie op die pad gehad nie en toe ek opkyk, was die bakkie waarmee ek gery het aan die verkeerde kant van die pad. Ek het (ongelukkig) groot geskrik en outomaties die stuurwiel na links gepluk om weer aan die regte kant van die pad te probeer kom. Skaars het ek die stuurwiel gepluk of Riaan se woorde van net ongeveer ‘n week tevore het by my opgekom: “Naomi onthou, ‘n mens ruk nooit aan die stuur van ‘n motor nie…”, maar dit was te laat… Ek het beheer oor die bakkie verloor en het heen en weer oor die pad geslinger. Met die laaste swaai het ek geweet dit is nou onvermydelik, die bakkie gaan definitief die pad verlaat en die bultjie afjaag.

Met die afgaan het ek net my oë styf toegemaak en laat gaan. Wat vir my so vreemd was, was die gevoel van totale kalmte. Reeds daar het ek die Here se hand van beskerming so duidelik ervaar. Ook die feit dat daar geen voertuig van voor of van agter op die pad was terwyl die bakkie heen en weer oor die pad geslinger het nie! Dis net die Almagtige alleen wat in soveel ‘detail’ aan ons aandag gee!

Ek onthou goed dat ek soos n albaster in ‘n glasbottel oral heen in die bakkie rondgeskud en gestamp is en toe die stilte…

Ek het gewaag om my oë oop te maak en ek onthou die skok toe ek besef ek lê buite die bakkie tussen die mielies.

Dit was, ten spyte van wat pas gebeur het, vir my ‘n groot wonderwerk dat ek totaal by my bewussyn was. Ek het die oomblik toe ek my oë oopmaak presies geweet wat gebeur het. Ek het geweet ek was pas in ‘n ongeluk, ek het geweet ek het die bakkie gerol en ek het  gehoor hoe ek vir myself in my gemoed sê: “Jy gaan nou probeer opstaan!” En sowaar! Ek kon opstaan!

Die mielies het hoog bo en reg rondom my uitgerys. Ek het probeer uitmaak waar die deur van die bakkie is sodat ek my foon in die hande kon kry. Eers toe sien ek dat die bakkie op sy sy lê met die bestuurderskant teen die grond. Die voorruit was uit en ek onthou ek het effens afgebuk en my kop deur die voorruit gedruk om te kyk wat binne aangaan. Alles was deurmekaar! Die sitplek het heeltemal los in die bakkie gelê… Ek kon nie veel verder uitmaak wat waar was nie – ook seker maar omdat ek in skok was. Ek het egter besef my foon gaan ek nie nou kry nie. Honderde goed het deur my gemoed gegaan. Ek het besef ek sal by die bakkie en tussen die mielies deur moet verby kom om so gou moontlik by die pad te probeer uitkom, anders gaan niemand weet dat hier ‘n mens is nie.

Toe ek regop kom het alles voor my pikswart geword. Ek was gelukkig naby genoeg aan die bakkie en ek kon myself teen hom probeer regop hou.

Ek onthou ek het dadelik begin bid en die bloed van Jesus Christus oor myself uitgeprewel en die Here gesmeek en gevra dat Hy sal help dat ek nie hier omval nie. Ek het gesê: “Here, as ek nou hier agter die bakkie omval, sal geen mens eers weet hier lê ‘n kar, wat nog te sê ‘n mens tussen die mielies nie.”

Ek het ‘n geweldige pyn deur my liggaam voel gaan en ek het besef dat ek tog seergekry het. Van my laerug tot in my bene kon ek baie moeilik beweeg en ek kon voel dat my linker sleutelbeen gebreek is.

Met groot inspanning het ek tussen die mielies deur en verby die bakkie beweeg. My hart was in my skoene, want wie sou nou by my stop en wanneer?

Toe ek uieindelik deur die mielies is, kon ek nie glo wat ek sien nie! Sowaar, daar staan ‘n motortjie aan die kant van die pad! Nog baie groter was my verbasing toe ek opmerk dat ek die seun in die motor herken – dit was ‘n kind uit ons eie gemeente, ‘n Sondagskoolleerling. My verbasing was nog groter toe ek sien hoe die seun se pa aan die ander kant van hul motor verbykom!! Die presiesheid van ons Here het deur my gedagtes geflits. Hy stuur nie net onmiddellik mense om my te kom help nie, maar Hy stuur sommer mense uit ons eie gemeente! Hoe WONDERBAAR ALMAGTIG is ons Here nie!! Hy IS die Here, die God van ALLE vlees! Sou enigiets vir Hom te wonderbaar wees?

Die man en sy seun het my met soveel omgee, sorg en versigtigheid bygestaan en aan alles moontlik gedink. Die seun het ook my selfoon gekry en ek kon self met my man praat en vertel wat pas gebeur het.

Dit was toe ek in die motor sit en afkyk op die bakkie, terwyl pa en seun moeite doen  om die bakkie weer op sy vier wiele te kry, dat ek sien die voorruit van die bakkie lê in een stuk tussen die gras. Die impak moes die voorruit met rubber en al laat uitskiet het, en toe ek agterna. Indien die voorruit nie eerste uitgeskiet het nie, kon my lyf en gesig moontlik flenters gewees het.

Hierdie pa en seun was op hierdie presiese tyd en oomblik die gekose instrumente in die hand van onse Here. Dit het baie diep en baie duidelik tot my persoonlik gespreek en my hart is geraak. Nooit moet ons as mens, al dink ons ook niks van onsself nie, die sagte stem van Sy Gees minag nie. Ons is nietig en piepklein, maar ons Meester wil en kan en sal ELKEEN van ons gebruik!! Al wat Hy vra is gewilligheid en gehoorsaamheid.

Hierdie pa is vroegoggend by die plek verby waar die ongeluk plaasgevind het. Met die verbyry na Reitz se rigting het hy opgelet dat daar graspolletjies langs die pad lê. Tóé reeds het die Heilige Gees al die man attent gemaak. Met die terugry die middag, oomblikke na ek uit Reitz is, het die pa en seun weer daar verbygery. Dié keer het die pa egter gesien dat dieselfde graspolletjies steeds daar is, maar dat nog een nou in die pad lê.

Hy het eers verbygery, maar toe besluit hy moet doodeenvoudig omdraai en terugry; iets lyk en voel nie reg nie…. Die man het gereageer op die Heilige Gees wat hom aanpor. Hy het omgedraai, gestop en gekyk wat aan die gang was, net om ‘n bakkie wat op sy sy lê met die onderkant pad se kant toe te sien.

Aanvanklik was sy vermoede dat hierdie ongeluk al die vorige nag gebeur het, siende dat hy al die oggend graspolle daar sien lê het, en ook omdat hy nou geen teken van lewe of beweging kon sien nie. Dit was net toe hy besluit het dat daar geen lewe is nie, dat hy die mielies liggies sien ritsel, en toe weer ‘n keer sien ritsel. Sy seun het uitgeroep: “Maar pappa, dit is tannie Naomi!”

Is ons Here nie Almagtig nie? Sy tydsberekening is tot op die sekonde reg.

Die seun het toe by die bakkie gebly terwyl sy pa my met groot liefde en deernis na Reitz se ongevalle-afdeling geneem het. Daar het hy gesorg dat ek gehelp word en by my gebly totdat Riaan by my was.

Ons Hemelse Vader se liefde en omgee is steeds in ander om ons tasbaar teenwoordig. Sy hand van genade en hulp is nog deur ons mede-broers en -susters na ons uitgestrek. Dit het Riaan en ek eerstehands regdeur hierdie hele episode ondervind, van die begin tot nou steeds.

Reitz se staatshospitaal het met die x-strale gevind dat ek ‘n operasie sal moet ondergaan aangesien dit ‘n ernstige breuk was. Hulle het my na Betlehem se staatshospitaal oorgeplaas. My pyn was op hierdie stadium so erg dat ek keer op keer my bewussyn as gevolg daarvan verloor het. Maar steeds was ons Hemelse Vader se hand sterk op my!!  Ek is 21:00 opgeneem en alhoewel hul ook weer x-strale geneem het, was die bekommernis tog daar dat ek rug beseer is, siende dat ek bykans ondraaglike pyn verduur het.

Die dokter (ortopeed) het my die Donderdagoggend kom sien en laat weet dat, aangesien dit n langnaweek is, ek eers die volgende week geopereer sal word. Heeltemal kalm en in Sy rus het ek dit so aanvaar. Ek kon huistoe gaan en dan weer die volgende Dinsdag terugkom.

Op daardie stadium was Riaan reeds oppad na my toe met die wonderlikste nuus: Van oral oor het die Here dit op manne en vroue se harte gedruk om fondse bymekaar te sit sodat ek privaat opgeneem kan word en so moontlik vinniger gehelp sal kan word. Die trane het spontaan en onophoudelik gevloei. Hoe is dit moontlik dat ons Vader so ‘n groot saak so spoedig uitwerk en dit vir my? Vir ons? Weereens het my liefdevolle Vader vir my gewys dat Hy is wat Hy is. Sy onverdiende liefde en omgee is steeds in en deur manne en vroue na Sy hart tasbaar teenwoordig.

Gevolglik is ek oorgeplaas na ‘n hospitaal in Lakeview en die dokter wat toe dadelik my x-strale wou sien, het gesê dat ek so spoedig moontlik geopereer moes word. Sy aanbeveling was dieselfde Donderdagaand nog. Aangesien dit tyd geneem het om in Bethlehem ontslaan te word en ons eers Donderdagaand in Benoni aangekom het, is die operasie na vroeg Vrydagoggend verskuif.

Aan ons Hemelse Vader alle lof, eer en aanbidding!! Hy het my lewe gespaar en alles het so goed afgeloop – die operasie was ‘n groot sukses. Na ‘n volledige ondersoek en nog x-strale is gevind dat my rug en nek ook honderd persent reg is. Daar is geen teken van enige skade nie.

Dit is nou reeds twee maande na die ongeluk en ek kan net sê: Dankie my Vader vir U hand van krag en genesing op my. Die pyn is so te sê heeltemal weg en ek herstel vinnig.

Aan ELKEEN wat digby ons gestaan het in die geringste en ook in die grootste, wil ek uit my hart baie dankie sê. Vader seën U elkeen ryklik en oorvloediglik soos net Hy alleenlik dit kan doen. Ons as mens sal nooit eens kan probeer om te begin vergoed nie.

Dankie Here Jesus dat U my in U hande toegevou het en dat U hierdie omstandighede in ‘n baie groter seën as teëspoed verander het. Weer het U gewys U kan alles ten goede laat meewerk!! Ek het U hartlik lief, my Koning, Meester en Bruidegom.

Naomi Jacobs