Ek is dankbaar vir die gawes wat die Here vir my gegee het – elkeen van ons het ‘n gawe, nie noodwendig dieselfde as die ander persoon s’n nie. Baie keer is ‘n mens geneig om jou gawe te minag, maar ek sê vir Jesus dankie vir my gawe van diensbaarheid (om ander mense te help).

Baie keer word ‘n mens vol van jouself en dan kry die Here jou net weer terug op die plek waar jy besef dat dit net van Hom afhang.

Romeine 9 vers 15 & 16: “Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.”

Toe ek as ‘n jong seun in die Here se huis gekom het, het Hy eendag vir my gesê dat Hy my persoonlik alles sal leer wat ek moet weet en dit is ook so – Hy het my met ‘n lang pad gevat, maar deur alles het Sy genade uitgestaan. Ek weet vir ‘n feit dat ek dit nie verdien nie, en daarom kan ek nie genoeg dankie sê dat Hy verlede jaar vir my ‘n deur oopgemaak het om my ambag te kon doen nie terwyl dit iets is wat ek al baie jare wou doen. Hierdeur het Hy vir my gewys dat Hy nie altyd net na die geestelike kyk nie, maar Hy is ook getrou om na die fynste detail om te sien.

Samuel von Wielligh