Ek was 34 jaar oud en nog vol lewenslus. Ek het aan sportaktiwiteite deelgeneem en het my nie veel gesteur aan die belangrikheid van my geestelike lewe nie, tot op ʼn dag. Dit was gedurende November van daardie jaar met die konferensie om die draai…

Die vorige Saterdag het ek nog aan ʼn maraton deelgeneem. Gedurende die Maandag het ek begin sleg voel met ʼn dowwe hoofpyn en ʼn lam gevoel in my linkerhand. Ek het daagliks per motorfiets werk toe gependel en gesukkel om die koppelaar aan handvatsel te gebruik.

Ons was die daaropvolgende Saterdag uitgenooi na ʼn geleentheid by vriende en ek het oudergewoonte die oggend gou gras gesny en was besig in die tuin toe dit begin reën. Inderhaas het ek die tuingereedskap gou motorhuis toe geneem. Ek kon nog onthou ek het die deur oopgemaak en net daar ineengestort.

Gideoni, my vrou, het dit toevallig gesien en met haar ma en die bure se  hulp my die huis ingedra. Die ambulans was vinnig daar en die paramedici het my gou gestabiliseer gekry. My bene was egter lam en ek kon nie opstaan nie. Hulle het my hospitaal toe gevat, waar ons dokter reeds gewag het. Tydens die ondersoek het die dokter vasgestel dat dit ʼn brein-probleem blyk te wees en het hy my dadelik vir ʼn MRI-breinskandering gestuur.

Ek het weer my bewussyn verloor en is inderhaas oorgeplaas na ʼn hospitaal in Johannesburg wat spesialiseer in die wanfunksie van die brein. Die neurochirurg het dadelik begin met toetse en het ʼn abnormale swelsel in my brein gevind met iets daar binne. Omdat dit blykbaar baie algemeen was, het hy gedink dit is ʼn parasiet, veroorsaak deur besmette varkvleis. Hulle het onmiddellik begin met behandeling om die swelsel in die brein te laat verminder. Ek het eers die Maandag weer my bewussyn herwin en kon dadelik die teorie weerlê dat dit a.g.v. varkvleis is, omdat ons nie varkvleis eet nie.

Met verdere toetse het hulle vasgestel dat dit ʼn gewas is. Die daaropvolgende Sondag is ek geopereer. Intussen is daar baie vir my in gebed saamgestem. Nodeloos om te sê, kon ek die Saterdagnag voor die operasie glad nie slaap nie. Sondagoggend rondom 09:00 is ek teater toe en is daar weer ernstig in die erediens vir my saamgestem.

Om 13:00 het ek in die Intensiewe Sorgeenheid wakker geword met ‘n baie uitgeputte neurochirurg langs my. Ek sal die Maandagmiddag altyd onthou toe ons herders my kom besoek het en vir my gesalf het. Ek glo Jesus het toe reeds die werk gedoen, alhoewel my geloof nogmaals beproef sou word.

Die neurochirurg het die uitslae van die gewas wat verwyder was terug ontvang en het my die ontstellende nuus kom meedeel dat die gewas aggressief is. Intussen het die konferensie in Jatniël begin en steeds was daar deurlopend vir my gebid. Die dokter het vir my gesê dat hy nie alles kon verwyder nie omdat dit te diep in my brein was. Hy was ook versigtig om nie verdere skade aan te rig nie. Met dié nuus het die duiwel dadelik gehamer op die “nie alles verwyder nie”. My linkerarm was toe verlam en ek het ʼn spraakgebrek gehad! Dit was genoeg rede om die ergste te verwag! Intussen het hy die naam van die gewas aan ons bekend gemaak, naamlik ʼn astrositoom.

Ek is ontslaan met die wete van die “kwaadaardige” gewas en met ʼn afspraak vir die eerste week in Januarie vir ʼn opvolg MRI-skandering. Daarna sou hulle die opvolgbehandeling bepaal. Natuurlik doen ons toe navorsing oor wat astrositoom is. Al die inligting het ons geloof nog meer beperk en toenemende vrees veroorsaak.

In Januarie is ek terug vir die opvolg MRI-skandering. Die verslae en plate is vooruit na die dokter gestuur en teen die tyd wat my afspraak aangebreek het, was ek redelik senuweeagtig omdat ek ‘n doodsvonnis verwag het. Maar groot was my verbasing toe ek ‘n uitbundige en baie tevrede dokter aantref! Hy het gevoel dat hy ‘n perfekte operasie uitgevoer het.

Al die X-straalplate was op ʼn verligte wit bord aangebring en hyself kon dit nie glo nie, maar DIE GEDEELTE VAN DIE GEWAS WAT TYDENS DIE OPERASIE AGTERGEBLY HET, HET VERDWYN!!! Sy verbasing was eg, want hy het die gedeelte met sy eie oë gesien! Hy het ook getoets of ek lewe in my vingers het. Prys die grote naam van die Here – ek het dadelik besef dat Jesus my aangeraak en volkome genees het!

Met hope vrede, blydskap en vol geloof is ons toe daar weg. Hy het egter daarop aangedring dat ek na 6 maande moet terugkom vir ʼn opvolgskandering en daarna ten minste 1 maal per jaar (volgens dr. Google kan so ʼn gewas teruggroei). Ek het daarby gehou vir die eerste ongeveer 5 jaar en elke keer was die terugvoer dieselfde: Daar is geen kwaadaardige gewas nie!

Intussen het ek die skanderings gestaak omdat ek weet dat Jesus my aangeraak het. My arm het heeltemal reggekom en ek het weer die volle gebruik van my hand gehad!

Ongeveer ʼn jaar later was my geloof weereens getoets. Ek het las van ʼn swelling in my linker-bobeen gehad. Ek het baie pyn ondervind en was verplig om ʼn geneesheer te besoek. Met my mediese geskiedenis is ek onmiddellik weer in die hospitaal opgeneem. Daar word toe ʼn kleurstof in ʼn aar in my been ingespuit om vas te stel waar die obstruksie is, want die bloedsirkulasie was afgesny.

Die uitslag was toe dat daar ʼn bloedklont in die hoofaar bokant my knie vassit. Hulle het dadelik begin met bloedverdunningsbehandeling. Omdat daar geen verbetering was nie, het die dokter besluit om ʼn aaromleiding in my been te doen. Die dokter het met behulp van ʼn skets vir my probeer verduidelik wat hulle beplan om te doen. Vir my was dit egter vreeslik tegnies en ek het berus by hulle besluit omdat ek geweet het Jesus is in beheer.

Weereens is daar baie vir my gebid. Na my ontslag moes ek elke vier ure opstaan en stap van die kamer na die kombuis vir die voorkoming van bloedklonte en die vasgroei van weefsels. Dit was ‘n marteling net om op te staan, wat nog om te stap.

ʼn Paar maande later het daar ʼn tweede bloedklont ontstaan, dié keer onder my knie. Ek is weer opgeneem en dieselfde prosedures is herhaal. Gelukkig was dit ʼn baie kleiner bloedklont en die situasie was gou onder beheer.

Dit was 28 jaar gelede en ek moet steeds ‘n mediese (kompressie)  kous dra. In al hierdie omstandighede kom al die lof en aanbidding net aan Jesus toe. Ek kan nie ander nie as te besef dat ek as ‘n mediese wonderwerk beskou kan word. Baie dae as ek bekommerd en moedeloos voel en vrees toelaat  vir die toekoms, dan dink ek terug aan my pad met die Here en die mylpale wat die Here vir my opgerig het. Hy het groot genade aan my bewys!

Johan Strauss