Ek wil ook graag net die Here se Naam grootmaak. Ek het weereens besef dat die Here nie net die bekwames gebruik nie – Hy vra net dat ons beskikbaar en gewillig moet wees.

In 1 Korintiërs 9 vers 22 staan: “Vir die swakkes het ek soos ‘n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red.”

Tydens die konferensie van 2018 het ek langs ‘n tannie gesit en ons het al begin koordans toe die Here dit op my hart druk om haar aan die hand te vat. Ek het die tannie so gekyk en onderlangs beloer en dink toe: sal ek haar hand vat of sal ek nou nie? Hierdie tannie is darem nou al baie langer as ek op die pad en ek glo nie sy sal iets van my kan ontvang nie. Die Here het aangehou om my te druk om haar hand te vat en na ek haar weer onderlangs beloer het, sien ek sy staan doodstil met oop oë en ek besluit ek sal dit doen. Net daar vat ek haar hand en ons koordans saam. Daar maak die Here my vry en ek kon hoor hoe kom sy vry, en ook die persoon langs haar. Dit was soos ‘n kettingreaksie. Hoe wonderlik werk die Here nie!

Dit was ‘n nagmaaldiens en nadat ons nagmaal gebruik het, het ons weer op ons plekke gaan staan. Die Here druk dit toe op my hart om vir haar te sê dat Hy haar baie liefhet. Weer ‘n keer dink ek: sal ek of sal ek nie? Na die Here Hom die eerste keer sterk aan my bewys het, twyfel ek alweer! Ek besluit toe maar op die ou end dat ek dit sal doen en ek vat haar so om die lyf en sê: “Tannie, die Here sê ek moet vir jou sê, Hy het jou hartlik lief.” Net daar bars sy in trane uit en sê: “Weet jy hoe nodig het ek dit nou gehad?” Dit het weereens gewys dat die Here net beskikbaarheid vra. Ons hoef nie groot en goed en wonderlik te wees nie. Ons hoef nie die vreeslike dinge in woorde te kan sê of bid nie. Ons moet net vir die Here beskikbaar wees.

Dit laat my ook dink aan ‘n getuienis van ‘n broer wat baie jare gelede in die tempel in ‘n diens was. Die Here druk dit toe ook op sy hart om ‘n spesifieke broer (dit was nogal ‘n groot broer) aan die hand te gaan vat en te koordans. Die man het gedink: “Here, as ek dié man aan die hand gaan vat, gaan hy my darem maar ‘n paar harde houe gee.” Maar die Here sê weer duidelik vir hom om daardie broer aan die hand te gaan vat. Hy sê toe vir die Here: “Goed Here, as daardie man met sy linkerhand aan sy regteroor vat, sal ek dit gaan doen…” En sowaar! Die man het met sy linkerhand aan sy regteroor gevat! Hy stap toe vorentoe, vat die man aan die hand en koordans saam met hom. Na die tyd het die man vir hom gesê: “Weet jy hoeveel jare al het ek die behoefte dat die Here net iemand moet stuur om saam met my in te stry?”

Ons is in ‘n tydperk waar die Here ons wil leer om self van Hom te wil ontvang en nie op ander of net op profesie aangewese te wees nie.  Daar is soveel krag en soveel volheid en soveel seëninge! Ek dank die Here dat Hy besig is om met ons ‘n pad te loop.

Juanita Potgieter