
In die lig van bewustheid oor Parkinson’s, en die feit dat April Parkinson’s Bewustheidsmaand is, het ons met Annetjie Peschel gesels oor haar eggenoot, Dries, wat al vir bykans 20 jaar met Parkinson’s saamleef.
Einde-1999 is daar verkeerdelik bevind dat Dries ‘n beroerte gehad het as gevolg van die simptome en tekens – hy kon nie omdraai in die bed nie, sy regtervoet het begin sleep, sy regterhand het geleidelik strammer begin word, en sy gesig het maskeragtig geraak. Drie-en-‘n-half jaar later, in 2003, het Dries voor ‘n paneel verskyn waar die professor bevestig het dat dit eerder Parkinson’s is as ‘n beroerte. Hy het nooit die algemene bewe-simptoom gehad nie – vir diegene wat nie weet nie, daar is vier simptome van Parkinson’s: tremor, rigidness, Akenisia, en Posturism (TRAP) en die simptoom wat by Dries botoon gevoer het, was rigidness (verstywing).
Volgens Annetjie het hulle aan die begin ‘n strawwe stryd gevoer, baie vrae gevra en probeer sin maak van die diagnose. Aanvaarding sou eers later kom, maar dit was iets waaraan hulle moes werk. Emosies het ook ‘n groot rol gespeel in die mobilitiet van Dries, hetsy blydskap, hartseer, skok, woede, ens. en dit het onmiddellike verswakking in sy liggaam teweeg gebring. Sy agteruitgang is erger as by pasiënte waarby bewe (tremor)die botoon voer omdat hy geheel en al verstyf, wat dan sy sig, spraak, beweeglikheid en vermoë om te kou en sluk baie aantas. Met spasmas trek sy kop ondertoe, wat dan eet- en slukvermoë belemmer. Slegs die Parkinson’s-medikasie kan die spasma verminder en meer beweeglikheid bewerkstellig.
Die reaksie van die medikasie is so onvoorspelbaar – die een oomblik werk die medikasie vir 30 minute en die volgende keer dalk net vir 10 minute.Proteïene in die dieet beïnvloed die werking van die medikasie negatief.
Sommige Parkinson’s-pasiënte het tot vyf pare brille omdat hul sig gedurig verander.
Omdat dit so ‘n onbekende siekte was, het Annetjie dit baie moeilik gevind omdat haar eie kennis so beperk was. Die aanpassing was so geweldig en sy moes haarself bemagtig deur inligting in te win oor die relatief-onbekende siekte (daardie tyd) – sy moes praatjies bywoon, oplees oor die siekte en medikasie, navrae doen by die mediesie om sodoende die mas op te kom.
Volgens Annetjie was die grootste eis vir haar dat sy moes toekyk hoe Dries agteruitgaan, sieker word en verander (fisies & geestelik). Hy het verander van ‘n spontane persoon na meer ‘n introvert omdat hy nie meer kon kommunikeer soos vroeër nie. Sy wye vriendekring het aansienlik gekrimp as gevolg van mense se onkunde en hulle nie geweet het hoe om met hom te kommunikeer of die siekte te hanteer nie. Annetjie moes leer om haar emosies te bedwing en te bestuur, want enige negatiewe reaksie van haar kant af, hetsy mondelings of deur lyftaal, word baie sleg deur Dries hanteer. Dit verg daaglikse fisiese, emosionele en geestelike aanpassings.
Wat die fisiese veranderinge betref, moes hulle hele wooneenheid aangepas word: ‘n stort en handreëlings in die badkamer en toilet was ‘n vereiste. Hul dubbelbed het verander in twee enkelbeddens, omdat Annetjie van alle kante af vir Dries moet kan bereik wanneer sy hom moet versorg, veral snags. Die spasies moet ‘n rolstoel kan deurlaat en rolstoelop- en afritte moes by die buitedeur aangebring word. Die volvloermatte is met teëls vervang om dit te vergemaklik. Sy eetgerei moes aangepas word: ligter borde, tuitbekers, krom eetgerei en borslappe het die nuwe normaal geword.
Annetjie se daaglikse pligte het ook drasties verander – sy moes nou ook Dries se manlike pligte oorneem, soos om die kar te laat diens, te bestuur en in- en uitpak wanneer hulle iewers heen gaan. Al sy persoonlike versorging moes sy oorneem: skeer, bad, aantrek, eet, drink, ens. Vasgestelde tye en ure kon nie meer ‘n rol speel nie.
Sy moes ook sy mediese versorging oorneem en seker maak dat hy die regte medikasie op die regte tye drink.
Die daaglikse beplanning het haar plig geword, want sy weet presies wanneer sy die medikasie moet gee om hom mobiel te kry sodat hulle bv. kerk toe kan gaan, doktersafsprake kan nakom, ens.
Hulle moes sosiale aanpassings maak, want ‘n gewone kuier by vriende en familie het geheel en al verander. Om ‘n gestremde persoon te akkommodeer moet die gasheer en gasvrou ook aanpassings maak, bv. rolstoel-vriendelike huise.
Stimulasie en aanmoediging is baie belangik om sodoende depressie en stagnasie teë te werk aangesien Parkinson’s ‘n degeneratiewe en sosiaal-afbrekende siekte is.
Ondersteuning vir die versorger is net so belangrik as ondersteuning vir die pasiënt.
Annatjie som dit as volg op: “In alles deur moes ons ons afhanklikheid van die Here besef en erken. Net Hy kan wysheid en liggaamskragte gee. Jy moet vra vir geduld en verdraagsaamheid. Sonder Hom sal niks werk nie en jy as mens het Hom nodig vir hulp en bystand. Daar is soveel om voor dankbaar te wees. Ons het die Here aanvanklik baie kwalik geneem en gevra: ‘Waarom ons?’, maar die antwoord daarop is: ‘Waarom nie ons nie?’”
Dries se behoud in geestelike oorlewing is dit: “Daar is lewe na ‘n diagnose” en “Kom dat ons die swaarkry met lekkerkry klaarkry”.

