Februarie is Kinderkanker Bewustheidsmaand en André en Eleanor Stemmet deel met ons hulle pad met kinderkanker

Ons reis met kanker het tydens 2018 se Desember-vakansie begin. Ons was met vakansie in Shelley Beach en Dihan het vir my knoppe op sy kop, net binne sy haarlyn, langs en agter sy kop, gewys. Volgens hom was dit nie seer nie, maar ek kon agterkom sy eetlus het verminder en hy wou net komkommer, green peppers, kaas en vleis eet. Hy het ook ‘n slegte hoes gehad wat ek maar tuis behandel het, maar na ‘n week was daar geen beterskap nie. Ek was besig om sy rug met Vicks in te vryf toe daar snaakse rooi vlekke verskyn, wat na ‘n ruk weer verdwyn het. Dihan het snags ook baie gesweet. Ons het nie geweet wat hom makeer nie…

Terug by die huis na die vakansie het ons dadelik ‘n dokter gaan sien. Hy was stomgeslaan en het nog nooit sulke simptome gesien nie. Hy het Dihan met kortisoon en antibiotika behandel, maar hy het net al sieker geword.

Ons hospitaalreis het in Addington Hospitaal se ongevalle-afdeling begin toe ons op harde stoele met ‘n baie siek kind moes sit en wag vir bloeduitslae en ander toetse. Twee dae daarna was hy opgeneem in die manssaal omdat die hospitaal seuns van 13 jaar en ouer nie meer in die pediatriese afdeling behandel nie. Ek het vir ‘n paar nagte niks geslaap nie. Hulle het buise en buise bloed kom trek en ons kind het net al sieker geword. Van die ander ouers by die tuisonderrigsentrum waar Dihan was, het ons gesmeek om hom uit die hospitaal te haal. Hulle het gesê hulle sal die onkoste van ‘n baie goeie privaat dokter dek. So is Dihan toe ontslaan uit Addington Hospitaal en het hy ongelooflike behandeling van Drs. Andrews en Rodriques ontvang. Hulle het ‘n limfnode in ‘n klein teatertjie verwyder en weggestuur vir ‘n biopsie. Die hematoloog, dr. Badree, het ‘n diagnose nodig gehad voor hulle hom na Enkosi Albert Luthuli Central-hospitaal toe kon verwys. Volgens hom is dit ‘n baie goeie staatshospitaal. Terwyl ons gewag het vir die uitslae was Dihan op verskeie drips (kortisoon, vitamiene en yster). Twee dae later het ons die uitslae gekry: “So jammer mevrou, dit lyk soos Burkitt-like Lymphoma…” Ons het nie geweet wat dit is nie en hulle het verduidelik dat dit ‘n limfkanker is wat die immuunstelsel aanval. Ek het in trane uitgebars! Ek kon nie glo dit was kanker nie!

Dihan het gesukkel om asem te haal en te urineer en moes die nag in Addington oorslaap voordat hy oorgeplaas kon word na Albert Luthuli-hospitaal. As gevolg van ‘n misverstand met die ambulansdienste het ons hom toe Albert Luthuli toe geneem. Wat ‘n pragtige plek! Die verskil tussen die twee hospitale was soos dag en nag: skoon, netjies en georganiseerd!

Drie onkoloë het hom ondersoek. Hy het toe al gesukkel met sy sig en om te praat as gevolg van geswelde limfkliere. Hierdie kind was baie siek! Hulle het nog bloedtoetse gedoen, ‘n lumber punch om vog uit sy rugmurg te trek, asook ‘n beenmurg-biopsie – hiervoor het hy ligte narkose gekry en hulle het ‘n 2,5cm gat in sy heupbeen geboor om die murg en been te toets vir kanker. Dit was geweldig traumaties vir ons almal!

So het ons daaglikse middag- en aandbesoeke begin op 31 Januarie 2019. Dit was ongeveer 80km wat ons daagliks gery het. Daardie aand tydens besoektyd het ons ons kind in ‘n toestand gekry – hy het geskree en gehallusineer en kon nie eers op sy bene staan nie! Ons was verslae en geskok! Volgens die medici het dit gebeur omdat die witbloedselle te veel was.

Op 4 Februarie 2019 het hy sy eerste chemoterapie behandeling ontvang en op 5 Februarie het ons die beenmurg-biopsie se uitslae ontvang: “We are very, very sorry, but your son has acute lymphoblastic leucemia with the T-cell…” Sy beenmurg was 93% kanker… Ons was stom! Dit was ‘n baie aggressiewe bloedkanker met ‘n aaklige “T-cell”. Hoe meer woorde in die diagnose, hoe erger is dit. Ek het in trane uitgebars!

Dihan se chemo-behandeling is verander en hy het elke dag aggressiewe behandeling gekry, 4 tot 5 dae op ‘n slag. Die hele behandeling was uitgewerk op ‘n papier met verskriklik baie blokkies wat ingekleur was en wat oor vier maande gestrek het. Hy moet vier siklusse voltooi, waarvan elkeen hom tussen 43 en 45 dae aaneen in die hospitaal gevange gehou het. Dit het beenmurgbiopsies en lumber punches ingesluit. Elke dag het hulle bloed getrek en sy suikervlakke getoets. Die naalde van die drips het hom so seergemaak en sommige van die plekke het ontsteek, maar op 1 April het hulle gelukkig vir hom ‘n Groshen-lyn in sy regterbors gesit en het dit toe baie beter gegaan.

Aanvanklik het hy geen newe-effekte getoon nie. Hy was ‘n klein bietjie naar, maar het geëet wat ons vir hom gebring het. Hy kon nie die hospitaal-kos in sy lyf kry nie. So het elke chemo-behandeling ‘n verskillende spyskaart gehad met kos waarvoor hy lus was: puff pastry, komkommer, green pepper, pizza en veral biefstuk en kaas. Party dae kon hy nie eet nie… So het ons goeie dae gehad, vol hoop en geloof, en dan weer slegte dae vol vraagtekens.

Een van die Cupcake Angels, Kerry, het hom kom besoek en gesorg dat hy flieks het om na te kyk, asook lego en bederfpakkies.

Ons het bly hoop, glo en bid dat Dihan gesond sal word. Groot was ons vreugde dus toe ons die nuus op 12 Junie 2019 kry dat sy kanker in remissie was!! Al die toetse het skoon teruggekom – geen kanker! Nou was hy ‘n buite-pasiënt en sou ons net kliniekbesoeke hoef te doen. Ons was egter erg ontnugter toe ons hoor dat hy vir 10 dae lank elke dag bestraling moes ontvang. Die rede daarvoor was dat dié spesifieke kanker wat Dihan gehad het, gewoonlik na 10 jaar weer terugkom in die brein. Hy was op die agterkant van sy nek bestraal en was naar en het opgegooi. Hy het baie siek gevoel, maar dit het darem beter geword. Daarna het hy twee lumber punches met 2ml chemo twee keer per week vir twee weke gekry. Hy het glad nie lekker gevoel nie en was geweldig moeg. By dit moes hy ook elke dag 36 kortisoonpilletjies drink vir 28 dae.

By die kliniek het die chemo wat hy gekry het hom so siek gemaak dat hy weer in die hospitaal opgeneem is. Sy hele lyf was uitgeslaan en hy het skaars geëet, net die heeltyd geslaap. Ons het gewonder of ons nie maar die behandeling moes stop nie… Dit het gevoel of ons vir Dihan deur vreeslike dinge sit wat ons harte breek en elke keer wat ons sê: “Dit is nou amper verby”, kom daar net weer ‘n chemo-siklus. Hy was glad nie so siek met die vorige behandelings nie.

So land ons toe weer in ‘n klein kantoortjie met sewe dokters. Ons het ons saak gestel en is driftig meegedeel dat die kanker enige tyd terug kan kom. Hulle voorstel was dat ons aanhou met die behandeling. Nou ja, so het ons toe aangehou.

Voor die volgende siklus was ons vir vier dae bietjie weg Shelley Beach toe, maar na die eerste dag het Dihan vreeslike beenpyne gekry. Geen pynpille het gehelp nie! Ek het alle kombinasies probeer en uiteindelik het twee Stilpaines elke vier ure gehelp. Later elke drie ure… Hy het gesukkel om te loop.

Op 30 September 2019 het ons ‘n familiedag wat deur “Reach for a Dream” gereël is, bygewoon. Ons was bederf met masserings en ‘n heerlike ete. Dihan was natuurlik onder kwaai verdowing, want hy wou gaan – hy wou graag gehad het dat ons dit as familie moet doen.

Die volgende dag moes ons Dihan met ‘n rolstoel na die kliniek neem. Hulle het gereël dat hy ‘n MRI-skandering ondergaan om te sien waarom hy nie kon loop nie en waarom hy die verskriklike pyn gehad het. Hy is ook weer opgeneem en mag geen pille vir pyn geneem het nie, slegs morfienstroop. Die bloeduitslae het gewys dat die lewer ‘n oordosis pynpille toon. Ons kind het kort-kort van pyn geskree!

Die uitslae van die MRI-skandering het ‘n gewas in sy laerug gewys wat op al die senuwees druk. Die medici het erken dat Dihan in geweldige pyn moes wees. Hulle het hom geboek vir ‘n gewas-biopsie, wat drie keer uitgestel is! Ons was later moedeloos, want kyk hoe word hy gemartel en daar was niks wat ons kon doen nie! Hy was vir die naweek huistoe gestuur en die dokters wou hom weer die Maandag sien. Die neurochirurg op Dihan se span het ook gesê hy wil ‘n laminektomie doen (dit is ‘n operasie waar die agterkant van die werwels wat jou spinale kolom beskerm, verwyder word om die drukking op die senuwees te verlig).

“We are so sorry but the cancer is back…” Dit was die nuus wat ons ingewag het die volgende week. Ek het in trane uitgebars van ongeloof. André wou weet hoe lank Dihan het om te leef. Die dokters het gesê vier tot ses weke. Ek het weer in trane uitbars.

Intussen het Dihan buite die spreekkamer gesit en wag. Ons het net normaal aangegaan en verkies om hom nie te vertel nie. Ons het gewag vir die geskikte tyd…. die tyd het egter nooit aangebreek nie.

Hulle het ‘n sistoskopie (cystoscopy) gedoen om te kyk waarom Dihan sukkel om te urineer. Die prosedure was sonder verdowing gedoen en dit was die slegste dag in sy hele lewe! Ons harte het gebreek vir sy pyn. Die biopsie was gedoen en hy is na twee dae huistoe gestuur. Hulle kon niks meer vir hom doen nie… Hoe verskriklik was daardie woorde nie! Hulle dra dit aan jou oor in dieselfde stemtoon waarmee jy iemand groet.

Dihan wou so graag vlieg en ons het beplan om al drie Port Elizabeth toe te vlieg om vir familie te gaan kuier sodra sy wond beter was – ons het mos immers vier tot ses weke gehad! Hy het so uitgesien daarna! Hy wou hê dat ons ‘n tassie vir die vliegtuig moes gaan koop en wou met alle geweld Dischem toe gaan om ‘n rolstoel en kierie te gaan koop sodat André hom buite kon rondstoot en hy die kruk kon gebruik om badkamer toe te gaan.

Sy wond wou egter nie ophou loop nie en hy het koors gehad. Ons was so bekommerd dat ons vir Dr. Rodriques laat kom het vir ‘n tuisbesoek. Hy het daardie aand gekom en ons het die grootste respek vir hierdie geneesheer gekry. Hy het ons bemoedig en voorgestel dat ons Dihan nie onnodig moes laat ly nie. Sy woorde was: “Let nature take its course…” Hy het ons die verskriklike nuus meegedeel dat Dihan nie meer lank oor het om te leef nie, dalk net ‘n paar dae…

Ons het aanhou gesels oor die familie-kuier en sy hare wat weer terug begin groei het. Ons het almal die slegte nuus meegedeel.

Dihan het al sieker geword. Hy het vreeslik gesweet, maar teen dié tyd het ons die simptome van die kanker geken. Sy hartklop het tussen 144 en 165 gewissel en ons moet hom tot amper by die toilet dra. Hy wou nie meer eet of drink nie.

Maandag, 4 November het Sandy van Cupcakes4Kids with Cancer vir dr. Julia Ambler van Unduduzi Hospice Care for Children gekontak. Sy en Tracey, ‘n maatskaplike werker, het ons besoek en medikasie voorgeskryf wat sy pyn sou verdoof en hom rustig sou maak, want hy het kort-kort opgevlieg, dinge gesien en bewegings met sy hande gemaak. Hierdie duur medikasie is deur Cupcakes4Kids with Cancer betaal. Ons is werklik so dankbaar vir hul ondersteuning gedurende ons reis. Hulle het ons ondersteun met geld vir brandstof, geskenke vir Dihan terwyl hy in die hospitaal was, asook finansies vir medikasie en noodsaaklikhede soos Ensure, pleisters en proteïen-aanvullings.

Dinsdag, 5 November het ons hom net rustig gehou en hy het glad nie sy oë oopgemaak nie. Rita Ferreira, een van Shemarah se inwoners, het my die Woensdagmiddag gehelp om Dihan se beddegoed te ruil, hom in die bed te was en nuwe nagklere aan te trek. Ayesha, een van die Cupcake Angels, het later die middag kom kuier en het in trane uitgebars toe sy hom sien – sy kon nie glo dat dit dieselfde kind is wat sy twee weke vantevore besoek het nie. Sy het vir hom ‘n massiewe teddiebeer gekoop, want vir haar was hierdie kind “larger than life”. Die impak wat Dihan se karakter op ander mense gemaak het, is enorm.

Teen hierdie tyd het Dihan glad nie meer reageer nie. Hy het net baie diep asem gehaal.  Net voor middernag het ek en André gebid en die hemelse Vader gesmeek om eerder vir Dihan te kom haal en te verlos van hierdie lyding. Ons was bereid om hom te laat gaan. Ons het Dihan gegroet en vir hom gesê om na Jesus toe te gaan en die vrae wat hy gehad het, vir die Here te vra. Ons sou okay wees… Ons het toe uit die kamer uitgegaan en in die saaltjie gaan prys en bid, en toe ons terugkom in die kamer het die Here hom klaar kom haal. Ons het opgekyk en vir hom gewaai, want dié wat ondervinding het, het gesê dat wanneer jy jou liggaam verlaat, jy kan terugkyk. En so het ons seuntjie daar doodstil gelê – hy het so mooi rustig gelyk – en op 6 November 2019 om 23:59 (dit was die oomblik wat sy armhorlosie gaan staan het) het sy reis met kanker geëindig.

Ons het tot die einde nog geglo dat die Here hom sou aanraak, maar ons gedagtes is nie Sy gedagtes nie. God is in beheer. Hy het die asem gegee en die asem geneem. Dit het ek fisies aanskou. Ons kan net ons Here Jesus Christus dank dat Hy ons drie elke dag van hierdie reis gedra het. Hoe iemand deur so iets kan kom sonder die Here en sonder gebedsondersteuning en donasies, weet ek nie. Ons is en bly dankbaar vir elkeen wat op welke wyse bygedra het om hierdie reis vir ons makliker te maak – mag die Here u seën en beloon.