Waarom is die mens feilbaar geskape?

… sodat die krag van Christus in my kan woon…

Foute en mislukkings in ons persoonlike lewe is nie iets waaroor ons maklik praat of skryf nie.  Ons stel dit nie graag ten toon vir almal om dit te aanskou en ontleed nie.

Dit is kompleet of jou foute en mislukkings jou karakter ontbloot en kan vergelyk word met ‘n  kunskritikus wat ‘n Pierneef-skildery onder ‘n vergrootglas bekyk.

Verkeerde besluite word geneem en omstandighede werk nie altyd uit soos ons beplan nie.  Tog wys foute en teleurstellings ons daarop dat ons net mens is en broos kan staan in ons geloof.

Die lewe kan ons soms onverhoeds betrap. Ons verwag nooit dat goeie tye of omstandighede tot ‘n einde kan kom nie. Voor ons benoude spronge gee en verkeerde besluite neem, is dit belangrik om terug te staan en perspektief te kry. Ek moet verstaan wat ek besig is om te beleef en waar ek my bevind in Christus, want as ek nie verstaan waar ek my bevind in Christus nie, kan ek die verkeerde besluite neem.

Die volgende verhaal word van Sir Edwin Landseer vertel.

Hengelaars het ontspan in ‘n herberg, geleë in ‘n klein dorpie in Skotland. Die vissermanne het luidrugtig gesels, beduie en meegeding oor wie nou eintlik die grootste vis gevang het, toe een man per ongeluk die kelnerin se skinkbord uit haar hande slaan. Die vol teepot het die muur getref en ‘n bruin vlek het die eens skoon muur ontsier.  Die herbergier was moedeloos en het gedink aan die onkostes en werk om die muur weer skoon en geverf te kry.

‘n Vreemdeling het opgestaan en aangebied om na die skade te kyk. Potlode, ‘n paar kwaste en potjies verf is nader gebring. Die bruin teevlek het verander in die mooiste takbok.  Sir Edwin Landseer was ‘n beroemde natuurskilder.

In Johannes 4 word daar vertel van ‘n besonderse vrou, iemand wie se verkeerde besluite haar geïsoleer het van mense rondom haar. Destyds was putte gewoonlik buite ‘n dorp geleë. Die vroue het volgens gebruik twee keer per dag, soggens en saans, water gaan haal. Ek kan my egter voorstel hoe daar saam gestap is na die put, geselsend met al die lag en hartseer van elkeen se huishouding wat gedeel word.

 “En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur.” (Johannes 4 vers 6)

Die Samaritaanse vrou het egter in die middel van die dag gegaan. So kon sy die nuuskierige oë en onnodige geselsies vermy wat maar gewoonlik plaasvind in so ‘n noue gemeenskap waar mense saamlewe.

Wanneer ek foute maak, die foute en verkeerde besluite wat almal kan raaksien – kom ons wees eerlik – vermy u en ek dan nie ook die plekke waar kinders van die Here bymekaar kom nie? So kry die vyand ons geïsoleer, weg van die Herder se stem en die veiligheid van Sy kudde.

“En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat ń Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ń Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.” (Johannes 4 vers 9)

Jesus steur Hom egter nie aan die “sosiale verskille” tussen Hom en die Samaritaanse vrou nie. Hy sien die beeld wat na God geskape is, Hy bring vir haar hoop en ‘n nuwe lewe in Hom. Haar foute is nie onbekend aan Hom nie (vers 16).  Haar sonde definieer haar nie, maar maak haar ‘n meesterstuk in God se hande, waar Sy liefde haar kan vorm.

Soos die Samaritaanse vrou moet ons net luister na Sy stem en erkentlik wees teenoor Hom.

Paulus stel dit so mooi in 2 Korintiërs 12 vers 9: “En Hy het vir my gesê: ‘My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.’”

Vers 28 tot 30 lees: “Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk ń man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom.”

Jesus het tyd geneem en Sy verlossingsplan met die Samaritaanse vrou gedeel, en soos die waterkan, kon sy alles by Jesus se voete los en haar getuienis met die mense om haar deel. Sy was nie meer geïsoleer nie; die Here het haar eensaamheid in ń borrelende fontein omskep, Sy lewende water vloei nou deur haar na ander.

Psalm 46 sluit so mooi aan by hierdie vrou se verhaal. “Die stroompies van ń rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste.” (vers 5)

Hierdie vrou het dadelik uitgegaan en almal van Jesus vertel. Vers 39 vertel ons dat baie Samaritane uit daardie stad in Hom geglo het oor die woord van die vrou wat getuig het.

 “En baie meer het op grond van sy woord geglo en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is.” (vers 41 en 42)

Ons kyk so maklik teen ons foute en tekortkominge vas. Dalk sien jy net die foute in ander mense se lewe raak. Moenie! Laat toe dat God jou en ander om jou vorm en skilder met Sy Gees. Hy wil ons van gedaante laat verander deur sy Gees.

“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ń spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3 vers 18)

Soos Dawid, wil ek in my verdwaalde weg van verkeerde besluite en ontblote karakter skaam vir die Here vra: “Wat is die mens dat U aan Hom dink, en die mensekind dat U Hom besoek?” (Psalm 8 vers 5)

As ons nooit sou faal nie, hoe sal ons weet om dankbaar te getuig van die oorwinnings? As ek nooit seerkry nie, hoe kan ek empatie hê met iemand anders wat deur teleurstellings, verkeerde besluite en ‘n ontblote karakter broos staan in sy of haar geloof?

Ons sing die lied “Genade onbeskryflik groot, het U aan my bewys….” Ja, dit is onbeskryflik groot om dit in woorde uit te beeld of daaroor te dig! Onbeskryflik om my hart vol dankbaarheid te verduidelik…

Foute, tekortkominge en verkeerde besluite definieer nie wie ons is nie. Dit bring ons nader aan ‘n Vader wat Sy arms om ons gooi.  Hy het ons formeer en ons naam is in Sy handpalm gegraveer! Dit gee ons eerder ‘n diepe bewuswording van ons totale afhanklikheid van ons Heer en Meester.

“Ek wil U loof, omdat U my verhoor het en my tot heil geword het. Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.” (Psalm 118 verse 21 en 22)

Johan & Riana de Jager (Wonderboom Gemeente-aflos)