Ja, my siel is stil tot God

Hy het op sy lewe teruggekyk. As kind het hy sy vader se skape opgepas, maar skielik het hy beroemd geraak. Hy het die liefling van sy volk geword, en net daar het sy moeilikheid begin.

Daar was seker nie baie mense wat so ʼn spanningsvolle lewe soos hy gelei het nie, maar sy wedervaringe het hulle tol begin eis. Hy het dae van veggees getoon, waarin hy God versoek het om sy vyande te verdelg. Dan het hy weer rustiger geraak, sy oog op die Here gekry en Hom geloof en geprys met sang, terwyl sy geoefende vingers die snare van sy harp gestreel het. Partykeer het hy eenvoudig na God verlang, en sy gevoelens getoonset.

Vandag dink hy aan die gevare en dreigings wat op hom afkom. Hoewel dit swaar op hom druk, is sy gees stil in hom. Hy vra nie vir die verwoesting van sy vyande nie, al moes hy in sy lewe soos ʼn patrys oor die berge vlug (1 Samuel 26:20). Nee, hy keer in homself en wend hom tot God. En toe begin hy om te sing: Psalm 62, ʼn Psalm van Dawid.

Na die aanhef in vers 1 begin hy met: Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil. Letterlik staan daar: My siel is stil tot God alleen; van Hom is my heil.

Hier sien ons vir Dawid wat, ten spyte van dreigende gevare, hom nie regmaak vir ʼn geveg of om homself te verdedig nie, maar wat sy oë op God rig, ten volle afhanklik van sy beskerming.

Vers 3: Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie.

Die beelde wat hier gebruik word, is die dinge wat ʼn soldaat ʼn gevoel van veiligheid gee. In die eerste plek is ʼn soldaat wat op ʼn rots staan, hoër geplaas as sy vyand, wat na hom toe moet opkom, en derhalwe in die proses nie sy aandag op sy vyand kan vestig nie, omdat hy moet klim om bo te kom. Tweedens is ʼn rotsvesting ʼn groot en swaar wat bo-op ʼn rots gebou is; ʼn fort, en die persone binne-in beskerm. Maar belangriker as dit als, is die feit dat God sy verlossing is. As Hý die mens beskerm, kan die vyand hom nie oorwin nie.

In sy lewe het die Here Hom sterk aan Dawid bewys. Hy was ʼn jongeling, ʼn skaapwagter, toe hy die reus Goliat in die Naam van die Here tot ʼn geveg uitgedaag en verslaan. Sy geloof in die Here was volkome.

In verse 4 en 5 kyk Dawid na sy vyande met die vraag van hoe lank hulle hom nog gaan aanval. Hulle wil hom verbrysel en soos ʼn muur omstoot. Hulle vertel leuens en huigel, met woorde van seën, maar met vloeke in hulle harte. Dawid herinner homself weer om stil te wees tot God, want van Hom is sy verwagting. Die woord “verwagting” in Hebreeus word “tiekwa” uitgespreek, en beteken “hoop, met ʼn verwagting dat iets gaan gebeur”. Met ander woorde, dis nie net soos in ek hoop dit gaan reën nie. Nee, dis ʼn hoop op die sekerheid dat God iets gáán doen; dat Hy verlossing sál skenk! Daarom wek dit nie sterk emosie of woede by Dawid nie. Dis asof hy die aanslag op hom net waarneem, sonder om betrokke te word daarby.

Dadelik is sy gedagtes weer op God gevestig. Verse 6: Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!

Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie (vers 7). Hierdie vers is byna ʼn presiese herhaling van vers 3. Die Here is sy rots en sy heil en sy rotsvesting. Die laaste deel van die vers verskil ʼn bietjie: Waar hy in vers 3 verklaar dat hy nie grootliks sal wankel nie, sê hy nou met groot vertroue dat hy nié sal wankel nie! ‘n Mens sien dat Dawid hom nie laat beïnvloed deur die realiteit van gevare rondom hom nie. Dis asof hulle nie bestaan nie. Sy werklikheid is God en sy nabyheid.

Sonder om af te wyk van sy gedagtegang, druk hy homself in ʼn intiemer verhouding met God uit in vers 8: By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God.

Nou verklaar Dawid: By God. Dis asof hy nader kom aan sy rots, sy heil en sy rotsvesting. Dit is nie net dáár eenkant nie; hy is bý God, wat sy beskerming is, en nie net dit alleen nie, maar God is ook sy eer!

Dawid het baie eer ontvang in sy lewe, maar nou het dit vir hom geen waarde nie. Wat help eer as ‘n mens se lewe deur ʼn swaard geneem word? Die enigste eer wat vir hom belangrik is, is dat God sy eer is; en nie net dit alleen nie, maar ook sy skat (die woord “eer” beteken ook skat). Soos Jesus later in Matteus 6 vers 21 verklaar het: “…want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” Dawid se hart was by God.

In vers 8 voeg Dawid nog by: My toevlug is in God. Dieselfde woord in die Hebreeus kan as “toevlug” of “skuiling” vertaal word. Hier sien mens dat God vir hom ʼn skuiling ook is. Al die beelde wat hy gebruik het: rots, heil, rotsvesting en toevlug, dien almal om net een punt te beklemtoon, naamlik dat dit God en God alleen is waarin hy sy vertroue stel om van sy vyande te ontkom.

Dis asof Dawid met hierdie Psalm sy volk beveel om met nuwe moed God te vertrou en dat Hy vir hulle ʼn toevlug is (vers 9). Sy vyande, wat vir hom so baie en sterk was, is nou nietigheid, en hulle leuens en die aansienlikes is almal saam minder as nietigheid (vers 10).

Dawid het in baie veldslae geveg, en met God by hom was hy onoorwinlik. Die vroue het gesing: Saul het sy duisende verslaan en Dawid sy tienduisende… (1 Samuel 18 vers 7). Maar wanneer ons Psalm 62 lees, wil dit voorkom of Dawid nie meer daardie motivering het om sy vyande storm te loop en te verslaan nie. Hy keer tot homself en soek in stilte skuiling onder die vleuels van die Almagtige, waar hy veilig sal wees.

Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil. Hy alleen is my rots, my heil en my rotsvesting. Dis soos ʼn gebed: Hy weier om sy aandag te laat aftrek deur die omstandighede en vyande wat hom omring, en maan sy siel om maar net stil tot God te wees, want van Hom is sy verwagting.

Soos die psalm aangaan, en sy kontak met die Here versterk, merk ‘n mens dat hy meer en meer op die Here vertrou. Waar hy in verse 4 en 5 nog ag gee op sy talle vyande wat hom wil verbrysel, verander hy in verse 9 tot 11 tot iemand wat sy volk motiveer om op God te vertrou! Sy vyande lyk nou vir hom minder as ‘n nietigheid vanuit die perspektief van God se beskerming en krag. Dawid verklaar dan ook in die laaste twee verse dat die sterkte aan God behoort, sowel as die goedertierenheid, en dat Hy elkeen na sy werke vergeld.

Dawid leer ons dat ons oorwinning nie in eie krag of vermoë lê nie, maar dat ons ons siel in stilte na Hom moet wend, want van Hom is ons heil. Al is ons omstandighede hoé ellendig, en gaan die golwe van verdrukking oor ons, moet ons in afhanklikheid stil voor Hom blý. In hierdie gemeenskap met die Here, bou daar ʼn vertroue in ons harte op; kry ons ʼn nuwe verwagting dat Hy ons sal deurhelp; word hy ons eer, die rots van ons sterkte, en ons toevlug.

Ongeag ons probleme en uitdagings in ons moderne wêreld, is die Woord van God nog net so kragtig en waar as in die dae van Dawid. Hoe meer ons ophou stry in ons eie krag en net in stilte in die Here rus, hoe meer vervaag ons bewussyn van die wêreldse gevare en dreiginge, en God se teenwoordigheid en vrede spoel oor ons, wetende dat Hy die mag het om ons te red.

Laat ons dus stil word voor God in volle vertroue teenoor Hom, want in Hom is ons heil. In die woorde van Jesaja: Want so sê die Here Here, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag (Jesaja 30:15).

Willem Maartens, Jatniël Gemeente


#Lockdown Bybelverspreiding

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het verlede jaar hul 200-jarige bestaansjaar gevier en Berséba-gemeente in Uitenhage/Despatch, onder die herderskap van Hannes & Hannelie van Tonder, het die behoefte gehad om ook ‘n bydrae te lewer ten opsigte van die verspreiding van Bybels.

Hulle het ‘n hele paar planne in gedagte gehad, maar toe gebeur die inperkings in Maart. Dit het hulle egter nie gestuit nie – hulle moes net hul manier van bydrae verander, en so het die #Lockdown Bybelverspreiding-projek ontstaan.

Aanvanklik sou die inperking slegs drie weke duur. Hulle het ‘n beroep op hul gemeente gedoen om vir daardie drie weke elke dag ten minste R1 per dag te skenk vir Bybelverspreiding.

Gedurende hierdie tydperk was die kerke gesluit en die dankbaarheid was groot toe die dag aanbreek wat kerkdienste hervat kon word. Tydens elke diens was daar ‘n gemerkte houer beskikbaar waarin die gemeente hul skenkings kon gooi.

Teen einde-November is daar Bybels aangekoop met die geld en in hierdie tyd het Berséba gehoor van ‘n ander kerk, Huis van Heerlikheid, wat ook Bybels ingesamel het om te versprei. Berséba het die Bybels wat hulle met hul skenkings aangekoop het aan hierdie denominasie geskenk en kon hulle Huis van Heerlikheid help om hul doel van 5000 Bybels te bereik.

Aan die begin van Desember is hierdie Bybels versprei by 10 hospitale in die Port Elizabeth-omgewing. Ongelukkig kon Berséba-gemeente nie hierdie geleentheid meemaak nie, maar dit was vir hulle ‘n voorreg om te kon deel hê deur middel van hul skenkings.

Wie ander help om beter te lewe is self voorspoedig.  Wie ander se nood raaksien, is ‘n gelukkige mens.  As jy ander help, sal jy gehelp word as jy dit nodig het.” Spreuke 11:25 (Die Boodskap)