The windows of heaven are open, 
and the blessings are flowing tonight. 
There’s joy, joy, joy in my heart 
Since Jesus made everything right. 
I gave Him my old tattered garments,
He gave me a robe of pure white.
I’m feasting on manna from heaven 
And that’s why I’m happy tonight. 

Hoeveel keer het ons nie al dié liedjie gesing en heel moontlik nie die diepte besef wat in die woorde opgesluit is nie. Ons dien ‘n Verbondsgod en volgens Jesaja 62 vers 4 sien ons dat Sy vreugde in Sy verbond met ons  lê.

“Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die getroude; want die Here het ’n behae in jou, en jou land sal getroud wees.”

Net so lê ons vreugde ook opgesluit in ons verbond met ons hemelse Vader deur Jesus Christus. In die liedjie sing ons “…since Jesus made everything right”. Jesus Christus het gesterf en ‘n nuwe verbond tot stand gebring tussen ons en ons hemelse Vader en daardeur kan ons, ons geestelike vensters (oë) oopmaak sodat die genesing en seën van God na ons toe kan deurvloei.

Wanneer daar ‘n verbond tussen twee persone gesluit word, word daar sekere voorwerpe geruil. Een van die voorwerpe is hul kleed wat verruil word. Jou kleed staan vir jou rang, outoriteit, waardeur die mense aan jou kleed kan sien wat jou posisie of rang is. Ons gee ons stukkende, vuil klere vir die Here en Hy gee vir ons ‘n rein, vlekkelose kleed. Ons gee vir Hom ons harte (lewens) en Hy gee vir ons Sy mandaat en outoriteit, ja, ‘n nuwe identiteit, nl. ons word kinders van God en so ontvang ons die ewige lewe. Die vader van die verlore seun het dadelik bevel gegee dat daar vir hom ‘n nuwe kleed gebring moes word. Daardeur het die vader opnuut sy seun in sy kindskap herbevestig.

Wanneer ‘n verbond gesluit word, word daar ook wapens uitgeruil. My wapens word jou wapens. My vyande word jou vyande. Ons sien dit in die Bybel waar Joshua ‘n verbond met die Gibeoniete gesluit het sonder om die Here te raadpleeg. Alhoewel die Gibeoniete vir Joshua en die volk mislei het, het die Here nog steeds die verbond geëer. Baie jare later was die Here baie toornig met Saul toe hy die Gibeoniete aangeval het, want Hy het teen die verbond gehandel wat Israel met die Gibeoniete gesluit het. Ons gee ons wapens van “self probeer” en “mure van selfbeskerming” vir die Here en Hy gee ons DIE WAPENRUSTING VAN GOD waarmee ons onsself kan beklee. So moedig Paulus die Kolossense aan om hulle met Jesus Christus te beklee. Wanneer ons in die verbond met God lewe, is ons onder Sy beskerming en is die hele leërskare van engele, in Sy opdrag, deel van die verbondsbeskerming van God oor ons.

‘n Verbond word ook verseël met bloed. Beide persone maak ‘n sny in hulle hand en dan met die handskud word die bloed gemeng en so word die verbond verseël. In Mattheüs 16 verwys Jesus na homself as die Seun van die mens en in dieselfde hoofstuk antwoord Petrus en noem Hom die Seun van die lewende God. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Sy bloed gevloei vir beide partye van die nuwe verbond. Niks van ons bloed hoef te vloei nie, want Jesus het Sy bloed laat vloei vir die mens en vir Sy hemelse Vader. So het versoening tussen God en die mens plaasgevind en het ‘n nuwe verbond ontstaan.

In Spreuke 23:26 vra die Here vir ons: “My seun, gee My jou hart” en in Esegiël 36:26 sê die Here: “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee”. Wanneer ons in verbond met die Here tree, gee ons vir Hom ons stukkende en harde harte en Hy gee vir ons ‘n nuwe hart gevul met Sy Gees.

Tydens die verbondseremonie word daar ook saam geëet as ‘n teken van die verbond. Dawid het ‘n verbond met Jónatan gesluit dat hulle mekaar moet beskerm. Hierdie verbond het ook vir Jónatan se nageslag gegeld. Nadat Saul en Jónatan gesterf het, het Dawid koning geword. Die enigste erfgenaam van Jónatan was ‘n babaseuntjie, Mefibóset. Omdat dit die gebruik was dat die nuwe koning die vorige koning se nageslag uitwis, het die kinderoppasser van Mefibóset hom gegryp en met hom Lódebar toe gevlug. In die vlug het sy die kind laat val en die kind het ‘n besering opgedoen wat hom kreupel gelaat het. Mefibóset se grootste vrees was dat Dawid hom sou vind en doodmaak, want Hy het nie geweet van Dawid se verbond met sy vader Jónatan nie. Ons vind dan hoe Siba vir Dawid kom vertel het dat Jónatan se seun leef. Dawid het vir Mefibóset laat haal en met hom die verbond opgeneem wat hy met sy vader gesluit het en hom aan sy tafel laat eet. Ons is geestelike Mefibósets. Die sondeval het ons geestelik kreupel gelaat en ons verwag vyandskap van ons hemelse Vader. Hy, daarenteen, bied vir ons nuwe klere, ‘n nuwe tulband en ‘n ring aan ons vinger aan (verbond). Ons verruil ons lewe van Lódebar, ‘n waterlose plek waar geen weivelde is nie, met ‘n plek aan die tafel in die Koning se paleis. Vader gee vir ons die belofte dat Hy ons sy eie seuns en dogters wil maak en dat Hy vir die res van ons lewens vir ons sal sorg, net soos Dawid dit aan Mefibóset belowe het.

Ons is nie meer onder die wet nie, maar ons staan in die nuwe verbond van genade met ons hemelse Vader. Wanneer ons nagmaal gebruik moet ons besef wat die prys van die verbond was. Jesus het nie net Sy liggaam gegee om gekruisig te word nie, maar Hy het sy hele wese gekruisig wat met groot smarte gepaard gegaan het, sodat ons in verbond met ons hemelse Vader kan staan. Jesus Christus is ons losser wat die losprys van sonde (die hel en die dood) namens ons gedra het – onskuldig. Ek kan nie aan ‘n meer heilige oomblik in my lewe dink as elke keer wanneer ek nagmaal gebruik nie. Met nagmaal herdenk ons die verbond met ons hemelse Vader deur Jesus Christus.

Kom ons vra die Heilige Gees om ons gees te leer en aan ons te openbaar wat die kern van Vader se hart is in terme van Sy verbond met ons. Die vensters van ons siel is ons oë – mag die Heilige Gees ons geestesoë oopmaak dat ons die volheid van God se roeping in die verbond kan sien. Ons lewensvreugde hang nie af van wie ons is of wat ons bereik het nie, maar van wie ons in Jesus Christus is. Sy Gees gee aan ons die volheid van Sy vreugde. Dit inspireer ons om hierdie liedjie met nuwe oorgawe te sing.

Henry Sharpley, Judah (Bosbokrand)

*Ons het die jongmense gevra hoe hulle die inperking ervaar, wat hulle die meeste mis en wat hulle geleer het.

Ek love tech maar ek mis my vriende

Vir die afgelope paar jaar, sedert slimfone en sosiale media kommunikasie soveel makliker gemaak het, was ek tevrede om net op WhatsApp of Instagram te chat – ons sien mekaar seker môre iewers… Dit was die normale roetine.

Vir ons as jongmense is tegnologie heeltemal normaal, dis deel van ons, net soos grondboontjiebotter en stroop.  Driejariges hanteer ‘n foon met die grootste gemak, grootmense staan verstom en raak selfs skaam as ‘n sesjarige hul wys hoe werk hierdie en daardie funksie op hul foon.  Vir ons is dit amper onmoontlik om onsself ‘n lewe sonder ‘n foon voor te stel. Hoe het hulle (die oumense) dit gedoen?  Die meeste jongmense se antwoord hierop sal wees:  “Ek sal doodgaan sonder my foon….”

Nog ‘n paar maande terug sou my eerste vraag aan ‘n kelner by die plaaslike koffiewinkel waar ons uitgehang het, wees: “Het julle wi-fi en wat is die password?”

Twitter, Instagram, Tiktok…. dit was die “onsigbare” pelle by die tafel.  Hulle dra by tot die gesprekke, maak die vibe…  Hulle lê die oomblik vas en deel dit met ander.  Dope times! #memories

Die eerste 30 dae van lockdown was heel okay.  Ek kon nogsteeds met my vriende klets op Instagram, WhatsApp, ens.  Met video calling kon ons mekaar sien en eintlik het dit doodnormaal gevoel, soos wanneer ek op vakansie gaan – al verskil was dat ek nou by die huis is, maar soos wat dit langer word, TBH (to be honest) was die chats en video calls nie meer vir my genoeg nie. Ek mis my BFF’s (best friends forever), my pelle! Om hul gesigte net op my foon tydens video calling te sien was nie meer cool nie; ek wil hulle in die regte lewe sien, hulle ‘n stywe druk gee.

My idee van ‘n get together begin nou verander.  As ek en my vriende nou bymekaar kan kom, wil ek met hulle chat sonder die net. Ek wil van hulle persoonlik hoor, ‘n decent conversation hê oor hoe dit met hulle persoonlik gaan en nie wat ander gedoen het of nog gaan doen of wat die nuutste gossip is nie. My foon off the table en in my sak. 

Van my vriende se ouers, en selfs ook my eie, het ons altyd so geïrriteer met die gemoan oor die fone: “Kan julle nie kuier sonder julle fone nie?” of “Jy is heeldag net op jou foon, los die ding ‘n bietjie!” Party jonges se ouers, het ek gehoor, het selfs so ver gegaan as om jou foon by die deur te vat as jy kom kuier en jy kry hom eers terug as jy weer waai.  Daardie tyd het ek gedink dis absurd! Totally overrated en belaglik, maar nou wonder ek tog: het die ouer mense dalk ‘n punt beet, weet hul dalk van iets wat ons nie weet nie, soos byvoorbeeld die lekker om te kuier sonder tegnologie??

Ons jeugleiers en pastoor herinner ons gedurig daaraan dat die lockdown vir ons iets kan leer, dat as ons die Here ‘n kans gee, Hy ‘n verandering en dieper verhouding met Hom in hierdie tyd kan bring.  Miskien is die besef van hoe belangrik persoonlike kontak en opregte belangstelling in my vriende ook so ‘n lessie wat ek moet leer.  Verstaan my nie verkeerd nie, ek love my foon, maar ek dink tog my tye saam met my vriende gaan van nou af so bietjie different wees,  die “onsigbare” pelle dalk uitsluit.  Die Bybel sê mos nie verniet dat daar ‘n tyd en ‘n plek vir als is nie…